Musiekteater

The Black Crook was 'n treffer in 1866.[1]

Die musiekteater kan beskou word as 'n afdeling van teater wat liedjies, dialoog, optrede en dans kombineer in een uitvoering. Die storie en emosionele inhoud van die musiekteater – humor, patos, liefde, woede – word by wyse van woorde, musiek, beweging en die tegniese aspekte van vermaak as 'n geïntegreerde geheel gekommunikeer. Alhoewel musiekteater oorvleuel met ander teatervorms soos opera en dans, kan dit onderskei word deurdat musiek die toonaangewende rol speel teenoor die bykomende elemente. Sedert die vroeë 20ste eeu, is musiekteateruitvoerings eenvoudig musiekblyspele genoem.

Alhoewel musiek deel vorm van dramatiese aanbiedings sedert die antieke tye, het die moderne Westerse musiekteater eers in die 19de eeu na vore gekom, met baie strukturele elemente soos in die werke van Gilbert en Sullivan in Brittanje en dié van Harrigan en Hart in Amerika. Dit is gevolg deur die talle Edwardiaanse musiekkomedies en die musiekteaterstukke van Amerikaanse skeppers soos George M. Cohan aan die begin van die 20ste eeu. Die Princess Teater-musiekblyspele (1915-1918) en ander vertonings soos Of Thee I Sing (1931) was ver voor hul tydgenote wat vermaak aanbetref en dit het gelei tot baanbrekerswerke soos Show Boat (1927) en Oklahoma! (1943). Sommige van die mees bekende musiekblyspele deur die dekades wat gevolg het, sluit in West Side Story (1957), The Fantasticks (1960), Hair (1967), A Chorus Line (1975), Les Misérables (1985), The Phantom of the Opera (1986), Rent (1996), The Producers (2001), Wicked (2003) en Hamilton (2015).

Musiekblyspele word regoor die wêreld uitgevoer. Dit kan aangebied word in die groot teaters, soos Broadway in New York City of West End in Londen, waar 'n ruim begroting al die uitgawes kan dek. Alternatiewelik kan musiekblyspele ook opgevoer word in kleiner plekke, soos streeksteaters, of gemeenskapsteaters of produksies wat van plek tot plek toer. Musiekblyspele word dikwels aangebied deur amateurgroepe en skoolgroepe in kerke, skole en ander plekke.

  1. Morley 1987.

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search